Dit gaan ok wees

Dit is mos dié genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ’n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie,
EFESIËRS 2:8‭-‬9 NLV
https://bible.com/bible/117/eph.2.8-9.NLV

Dis nou 2 maande na my laaste operasie. Volgens my Dr is dit weereens “failed back surgery sindrome” Dis is wanneer jy ‘n operasie gehad het, maar die pyn wat jy voor die tyd gehad het is steeds daar. Ek het wel been groei wat hy al kan sien op die plate, wat ‘n klein wonderwerkie is op sy eie.

My pyn vlakke is geweldig hoog en ek sukkel steeds met my been pyn en verswakte gebruik, knie reflex is baie swakker as die ander been en geen reflex in die voet.

Ek het so geworstel met hierdie operasie. Ek was regtig vas oortuig dit is verby, ek gaan nou begin leef maar dis nie wat gebeur het nie.

Is alle hoop goed vir jou, kry mens iets soos toksiese hoop? Ons het gepraat oor die stimilator maar hy het gesê as ek ‘n kwaliteit lewe wil hê gaan ek ‘n pyn pomp moet kry (intratekale morfienpomp) baie meer effektief as orale pynstillers en baie minder newe effekte. Ek was vreeslik gekant daarteen in die verlede maar nou sing ek ‘n ander deuntjie.

Daar wil weer hoop opvlam in my, daar is weer ‘n kans dat ek kan voel hoe dit moet wees sonder pyn, pyn het so normaal geword vir my so deel van my bestaan vir solank. Is daar regtig ‘n kans dat ek pynvry kan lewe. Mag ek waag om te hoop?

Mag ek droom vir beter of gaan ek net weer teleurgesteld word. Of bite mens net die bullet en kyk wat gebeur. Ek is bang om te hoop, bang om te droom. Ek sit my vertroue in my Dad. Hy weet van beter as dit moet beter sal dit beter en dit sal werk, as dit nie in sy beplanning is nie sal dit nie. My hart sal weer breek maar ek weet Hy is daar om die stukkies op te tel.

Ek sal hoop hê in Hom en droom saam met Hom. Dis al hoe ek wat ook al die toekoms vir my gee sal kan hanteer.

My toekoms is onbekend ek weet nie hoe dit gaan lyk nie. Wat ek wel weet is dat daar nie een gesonde werwel in my rug is nie van al die werwels in my rug het 12 skroewe in. Eerlikwaar dink ek nie dit gaan ophou by net 12 nie.

Ek weet dat ek weet dat pyn probeer my geloof te wankel maar dit is onmoontlik. My liefde vir my God is onwankelbaar en sy liefde vir my onbeskryflik.

Ek kan nie myself indink waar ek vandag sou gewees het sonder Hom nie ek het net op die regte tyd van my lewe Hom aanvaar en bekeer. Hy het vir my ‘n wonderlike gesin gegee ‘n fantastiese man, ‘n Godvresende man.

Hierdie affêre is vir my moeilik ek is in pyn 24/7 slaap miskien 3 of 4ure as ek gelukkig is. As ek mooi dink en kyk hoe dit my man affekteer, dit is hartverskeurend.

Hy is ‘n “fix it” ou as iets stukkend is maak hy reg, en hier is geen pleister of salf wat hierdie seer wegvat nie. Ek dink nie dis maklik om magteloos toe te kyk hoe iemand swaarkry waarvoor jy so lief is nie en jy kan niks doen om dit beter te maak nie.

Ek is op ‘n “spinal fusion support group” op Facebook en dis ongelooflik hoeveel mense se eggenote net wegstap wanneer dinge biedjie moeilik raak.

Dis iets wat ek nog nooit oor hoef te worry nie. My Dad het vir my ‘n gesonde huwelik gegee, ‘n man wat ek mal is oor. Ons is al 26 jaar saam hierdie jaar 19 jaar getroud en ek is steeds verlief en verlore in sy arms. Niks voel so tuis soos om met my kop op sy bors te lê nie of sy drukkies nie. Dis my happy place my save haven.

Ek weet nie wat die toekoms vir my inhou nie maar ek weet dit gaan ok wees ek het ‘n getroue God en ‘n amazing gesin.

Ek is nie alleen nie, hierdie stukkende gebroke lyf is net tydelik ek is net ‘n toeris in hierdie wêreld. Daar wag vir my beter in my ewige lewe en daarvoor kan ek nie wag nie.