Gesprekke deesdae begin alewig met: “Ek het hierdie quote raakgelees” of “Ek het daardie video gesien.”
Hierdie stuk wat ek vandag skryf, gaan juis oor ‘n video wat ek gesien het—iets wat my diep getref het. Ek het gedink ek deel dit met jou.
As alles wat jy sê waar sou word, sou jy verander hoe jy praat?
Vat ‘n minuut en dink oor daardie een.
GENESIS 1:26
Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as Ons verteenwoordiger, na Ons beeld.”
My vriend, God het gespreek—Hy het die woord gepraat in die begin, en dit het gebeur. Ons is gemaak in Sy beeld, so ons kan ook skep. (Moenie nou die hoender ruk nie, ek sê nie ons is God nie, maar ons is geskape in Sy beeld.)
SPREUKE 18:21
“Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.”
Die wêreld leer ons om te praat oor wat ons sien, maar die Bybel leer ons om te praat oor wat ons wil sien. Dít is hoe geloof werk.
- Spreek lewe oor jou gesondheid.
- Spreek lewe oor jou huwelik en jou kinders.
- Spreek lewe oor jou finansies, ons land—oor alles.
As jy nie van ‘n situasie hou nie, spreek lewe daaroor. Jy is gemaak in die beeld van God, en jy skep met elke woord wat by jou mond uitkom.
Verander net dit wat jy sê.
Ek hoor jou: “Regtig, Riëtte? ‘n Paar woorde gaan nie my situasie of lewe verander nie. Ek praat net oor wat ek beleef en wat ek sien.”
Maar, my vriend, dít is juis waar die probleem lê! Die Bybel leer ons dat geloof die realiteit is van waarin ons hoop—die bewys van dinge wat ons nog nie kan sien nie, totdat ons dit wel kan sien.
Bid hardop.
Ek het al gehoor: “Nee, Riëtte, moenie hardop bid nie. Die vyand gaan jou hoor en weet presies waar om jou aan te val.”
My liewe vriend, hy het geen mag oor my nie! Hoe kan ‘n ding mag hê wat reeds deur my Vader verslaan is? Die enigste manier waarop hy jou kan aanval, is as jy hom mag gee. My God is groter as die vyand, en dis al wat sy geskryf het!
As jy jou gebed nóg kragtiger wil maak, bid met die Woord en bid in dankbaarheid. Daar is ‘n verskil tussen ‘n gebed van dankbaarheid en een van twyfel.
Byvoorbeeld:
“Vader, ek lees in 2 Konings van die vrou wat net ‘n bietjie olie gehad het, en U het dit vermenigvuldig sodat sy meer as genoeg gehad het—selfs om ander te seën. Dankie dat U steeds dieselfde is, vandag, môre en vir altyd. Dankie dat U ook vir my sal voorsien soos U vir haar voorsien het. Dankie dat U my Voorsiener is, en daarom sal ek nie begeer nie.”
Onthou die krag van jou woorde.
En bid hardop as jy wil—Hy wil met jou praat en ‘n verhouding met jou hê. God het klaar gewen, die vyand het geen mag nie.
So, my vriend—
As alles wat jy sê waar sou word, sou jy verander hoe jy praat?