
Ek het altyd my waarde geheg aan wie ek was deur wat ek gedoen het.
Ek was op skool ’n atleet, ’n gedugte netbal- en korfbalspeler, mal oor sport—ek het alles gedoen wat aangebied was.
Toe word ek ’n brandweervrou. Ek was ongelooflik trots daarop. Dit was my droomwerk—belangrik en betekenisvol.
Toe trou ek. Ek het Werner se vrou geword, iemand wat na haar man omsien, ’n tuiste skep. Dit is steeds een van my beste besluite ooit.
Toe word ek ’n mamma. Ek het nooit gedink ek sou verstaan hoe dit voel as jou hart buite jou liggaam rondloop nie. Wat ’n belangrike, wonderlike, en vervullende werk was (en is) dit nie! Om my kinders groot te maak en te leer, was ’n ongelooflike voorreg.
En toe… kom die een operasie na die ander. Stelselmatig is ek weggeneem van wie ek was. Een oomblik lyk dit of die son weer gaan skyn, dan dompel die pyn my weer in die duisternis—alleen in my eensame gat.
Wie is ek nou? Is ek net pyn, elende, depressie? Ek kan nie meer werk nie, ek is nie meer ’n “contributing member of society” nie. My kinders het my nie meer so nodig soos toe hulle kleiner was nie.
Wat bly oor?
Ek weier om net pyn te wees. Ek weier om net “die vrou met die morfienpomp” te wees. Ek is nie net die vrou wat soms met ’n kruk loop en skaam kry vir die ding nie, wat mense se oë voel brand, wat eerder twee rye verder parkeer met haar geldige parkeerplakker, net om nie te veel aandag te trek nie. Maar dan sit ek later in die kar en huil, want ek het te vêr geloop sonder my kruk—te trots om dit te gebruik—en nou is ek te seer om te ry.
Ek is moeg. Moeg vir die opinies van mense wat my nie ken nie. Moeg vir aannames. Moeg vir myself. Ek is uitputtend.
Wie is ek nou eintlik?
God sê ek is wonderlik. My Vader sê ek is waardig. My Vader sê ek is geliefd en verdien om liefgehê te word.
As Hý dit sê, wie is ek om anders te sê?
Ek is Riëtte. ’n Entrepreneur wat ’n besigheid van nuuts af gebou het en elke produk self maak.
My Vader het vir my ’n kreatiewe gawe gegee.
My Vader het my gemaak ’n mammaa—’n mamma wat versot is op haar kinders en elke oomblik saam met hulle geniet.
Ek is ’n vrou van ’n ongelooflike man, wat instaan waar ek kortkom en andersom. Ons het ’n wonderlike verhouding.
Maar die belangrikste van alles—ek is ’n kind van God.
Ek is royalty.
My Pa is die Koning van die heelal.
Soms moet ek net ’n oomblik stilstaan en onthou waar ek vandaan kom en wie ek regtig is.
So my liewe vriend… wie is jy?