He with little Faith

Jesus loop op die water. Petrus sien Hom en sê: “Jesus, beveel my om na U toe te kom, en ek sal.” Jesus sê vir hom: “Kom na My toe.” Petrus klim uit die boot en loop op die water! … Wow, ‘n gewone Piet, ‘n doodgewone mens loop op die water (mind blown). Petrus kyk vir ‘n oomblik weg, sien die golwe en wind, en paniek slaan toe. Hy begin sink. Jesus steek Sy hand uit en sê: “Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?”

Kleingeloof… Klein geloof, genade, ek weet nie so mooi nie. Die man het sonder om twee keer te dink uit die boot geklim. Hy het genoeg geloof gehad dat hy nie eers sy skoene uitgetrek het nie. Ek sou sê dit het nogal baie geloof gevat om daardie tree te vat.

Wat beteken dit dan om kleingelowig te wees? “Little faith” of “kleingeloof” – Wat sal dit beteken? “Little” beteken klein, kort, of dit kan ook beteken van korte duur… Eureka!

Petrus se geloof was van korte duur; sy geloof het nie gehou nie, hy het kortgekom en opgegee.

Dit laat my dink aan hoeveel keer ek al iets met soveel geloof aangepak het, en as dit nie dadelik werk nie, of ek word nie gesond nie, of ‘n operasie kry komplikasies en ek bid vir ‘n deurbraak, ‘n oplossing, genesing, enige iets—dat Hy net moet ingryp. Maar as dit nie uitwerk soos ek dit wil hê nie, wankel my geloof so bietjie.

Die Bybel sê jy moet geloof hê soos ‘n mosterdsaadjie. Ek het nou al gewonder oor daardie een… ‘n Mosterdsaadjie… Regtig? So min, so klein, en dan sal jou geloof berge verskuif? Maar nou, my liewe vriend, nou vra ek jou met trane in my oë, want ek is so skuldig hieraan. Het jy die geloof om geduldig te wag wanneer Hy dalk die berge verskuif, klippie vir klippie, en nie die hele berg in een slag nie?

Ek raak so “consumed” in my pyn, my probleme en bekommernisse oor môre, dat my geloof dalk wankel as dit nie op my tyd gebeur nie. Dan voel ek vergete en ongehoord. Maar dalk kom die genesing in die wag. Dalk kom die oplossing op ‘n onverwagte tyd, Sy tyd.

Nou die uitdaging: om my geloof so te versterk en te bou dat dit van lange duur sal wees. Al kom genesing nie vir my nie, al voel dit of alles verkeerd gaan, ek sal geloof hê in my Vader. Hy weet wat Hy doen, en ek vertrou Hom met alles in my.

Vader, ek bid dat U my sal help om my geloof te versterk, dat dit van lange duur sal wees, ‘n geloof wat sal hou tot in die lengte van dae. U is so goed vir my, U het my so lief. U het my hier geplant vir ‘n tyd soos hierdie. Hou my vas vir die dae wat ek swak is. Dankie dat ek altyd kan weet dat U my nooit sal los nie, al is ek partydae soos Petrus en wankel. Ek weet dat U my altyd sal agternasit en nie toelaat dat ek te ver afdwaal nie.

Ek is so lief vir U, Vader. Dankie vir ons verhouding, dat ek die vrymoedigheid het om met U te kan praat oor enige iets en U te kan vertrou met alles.

Love You forever and a day. Amen.