Bekeringsherdenking

Vandag is my 13 jaar herdenking van wanneer ek bekeer het. 13 Jaar voel so lank; ek kan nie onthou wie ek was voor my bekering nie. Ek weet ek was baie kwaai, beneuk is die regte woord. Ek dink daar is ‘n rede hoekom ek nie onthou wie ek was voor ek bekeer het nie. Ek glo ons moet leer uit ons verlede en dit daar laat.

Daardie dag, waar ek Dad se liefde die eerste keer ervaar het en vir twee dae aanmekaar gehuil het; nie oor hartseer nie, maar uit dankbaarheid. Dis waar ek die eerste keer in my lewe gevoel het hoe onvoorwaarlike liefde voel.

Maak nie saak wat ek gedoen het of gesê het nie, of wie my seer gemaak het nie. Hoeveel keer ek verwerp was nie, of hoeveel keer ek my eie lewe wou neem nie. Alles het van my afgeval – so asof jy in ‘n warm stort staan en al die lelike goed in my verlede en hede spoel af van my lyf / my siel af en spoel in die drein waar dit hoort. Verewig verlore om nooit weer opgetel te word nie.

Ek dink dit is hoekom Dad my laat vergeet het wie die ou ek was. Dis sodat ek nie weer die gebroke stukke van myself kan optel nie.

My lewe was nie maklik na my bekering nie, inteendeel was die moeiliker. Alles wat moontlik kon verkeerd gegaan het, het. My ligaam het my teleurgestel. Vriende het van my vergeet en my hart in stukke gebreek. Ek moes ophou werk oor my liggaam wat my faal.

Maar my liewe vriend, dit was alles die moeite werd. My liefde vir God het so gewelding gegroei, sowel as my liefde vir my gesin en my medemens. My huwelik het verander. Ons het God die middelpunt van ons huwelik gemaak. Ons liefde vir mekaar het verdiep tot ‘n vlak wat ek nooit gedink het moontlik is nie. Ek kyk anders na die lewe. My gebede het verander, nie meer net skiet gebedjies wat gebid word om my te help uit ‘n penarie nie. My gebede het verander in geselsskappe tussen my en God.

Ek het lank na my bekering gesukkel om te aanvaar dat Hy my lief het en my gekies het om Sy kind te wees. Ek, hierdie gebroke “fragile being”! Ek is nie Sy liefde werd nie. Ek verdien nie eers Sy krummels wat op die grond val nie. Hoe kan Hy so lief wees vir my ? Ek verdien niks van hierdie wonderbaarlike geskenk wat direk uit Sy hand kom vir my en jou nie. Maar, toe ek genade snap en begin verstaan…wat die kruis werklik beteken het, het ek op my knieë val en uit dankbaarheid Sy genade en liefde oor my lewe aanvaar. Dit was asof die “was-lagie”, waardeur ek gekyk het verdwyn het.

Alles het anders begin lyk. Ek het die mooi in die wêreld begin raak sien; regtig raak sien; uit my siel uit raaksien. Liedjies het anders begin klink. Ek het my kinders anders begin groot maak. Sodoende het hulle ook begin verander. My kindertjies het rustiger geword – ons hele huishouding was rustiger.

My verhoudings met vriende het ook verander. Dit het meer dieper verhoudings geword en ek was meer teenwoordig wanneer ons bymekaar gekom het. Ek deel my liefde met my God met my bietjie vriende wat oorgebly het wat dit soveel meer kosbaar maak.

Ek kan nie my lewe in dink sonder my God nie. Ek kan nie dink wie ek sou gewees het sonder Hom nie. Maar, ek weet ek is soveel ryker met Hom in my lewe. My lewe lyk dalk nie soos wat ek dit wou gehad het nie, maar ek is presies waar ek moet wees en ek glo ek loop die pad wat Dad my op wil hê. Ek loop my pad saam Hom.

God het vir my hoop gegee. Hoop vir ‘n beter toekoms- ‘n pynvrye toekoms. Al het ek dit nog nie na al die jare se lyding, weet ek dat ek weet ek sal dit hê een of andertyd. Ek sal pynloos wees, of dit môre gaan wees, volgende jaar of eers in die Hiernamaals, maar ek gaan weer pynloos wees. Ek weet dit vir n feit. My God het my te lief.